Kritiese Kommentaar

tier in tas

Daniëlle Rossouw

Dra jy ‘n metaforiese tier in jou tas rond? Is jy ‘n idealis en ‘n dromer wat glo in fantasieverhale? Of is jy nugter en beredenerend en glo jy dat ‘n storie logies moet sin maak en dat evolusie ‘n verklaring bied vir baie van jou vrae? Wat is die essensie van verskillende gelowe? En waar val jy op die spektrum van geloof?  Die fantasie-roman “Life of Pi” vertel ‘n storie van ‘n jong Indiese seun wat homself vir 227 dae saam met ‘n Bengaalse tier in ‘n reddingsboot in die middel van die Stille Oseaan bevind. Die tier se versorging was die dryfkrag agter Piscine (die hoofkarakter) se vermoë om menige ontberinge ter see te oorleef. Só werk dit ook met jou geloof: jou geloof verskaf aan jou die dryfkrag om die uitdagings van die lewe te bowe te kom.   Die HAT voer aan dat geloof “in essensie die bepaalde vorm van iemand se godsdienstige oortuigings is.” Volgens The Word Factbook 2015 bestaan die Suid-Afrikaanse bevolking uit 68% Christene, 2% Moslems, 1,5% Hindoes, en 28,5% inheemse gelowe en animiste wat Jode insluit. Die vraag is hoe hierdie gelowe in essensie van mekaar verskil, en of dit nog relevant is om binne die konteks van ons generasie, en van die reënboognasie van Suid-Afrika, hierdie verskille te beklemtoon? Die ooreenkomste tussen hierdie gelowe berus op die verantwoordelikheid by aanhangers van hulle godsdiens om ‘n sukses van hul geloof te maak deur gehoorsaam te wees aan ‘n persoon; ‘n bepaalde tradisie; reëls of bepaalde aktiwiteite. Met ander woorde, toewyding en opregtheid in samehang met geloof is belangrik; maar het ons tieners enigsins verdraagsaamheid teenoor ander gelowe en standpunte? Of jy nou ‘n dromer is wat jou geloof op vertroue uitleef – om met ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons nie kan sien nie, te hoop – of ‘n pragmatis wat beredenerend en prakties jou geloof uitleef, een ding is duidelik: ons generasie moet die uitda- ging van die diversiteit van ons reënboognasie omhels en die “tier in jou tas” met oorgawe troetel.


 Kommentaar

Feminisme: Gekykheid of Verheffing?

Rynhard de Bruyn

Terwyl meeste Helpies relatief welsprekend en intelligent is, is daar ‘n verbasende hoeveelheid mense wat onder die wanpersepsie verkeer dat alle feministe aggressiewe verhewenes is.  Die begrip feminisme word amptelik gedefi nieer as die strewe om gelykheid op politieke, ekonomiese, maatskaplike en sosiale vlakke vir beide geslagte te kry. Die gevolgtrekking is dus hier dat feminisme en ander menseregtebewegings dikwels misbruik word om een groep bo ‘n ander te verhef.  Die logika lui soos volg: indien daar ‘n stryd gevoer word om ongelykheid en onregverdigheid in die samelewing te beveg is die uiteinde dan om ‘n ander groep bo die oorspronklike onderdrukkers te plaas. Dié gedagtegang is geheel en al teenstrydig. Geskiedkundig het die beweging ook ‘n noemenswaardige invloed gehad op die verdeling in die samelewing wat op onregverdige stereotipes en ekslusiewe menings geskoei was. Daar is ook misinterpretasies van die konsep van gelykheid in ons eie Helpie-kultuur; die idee dat meisies voor seuns by deure ingelaat moet word, dat meisies niks swaar kan dra nie en dat seuns die romantiese jagter moet wees, is ook nie eie aan die idee van gelykheid nie. En hiermee is ek nie besig om goeie maniere te probeer ondermyn nie, ons wil immers net gelykheid bewerkstellig, of hoe?


BYBELHOEKIE

Lize-Marie van Wyk

“Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal vir julle rys gee” – Matteus 11: 28-30

Ons almal het al hierdie teksvers gehoor, maar ons verstaan nie altyd wat dit régtig bedoel nie. “Ons is maar net tieners, wat weet ons tog dan van werklike swaarkry?” Ons vergeet dikwels dat óns óók swaarkry beleef, hetsy in ons ouerhuis of wanneer ons op pad skool toe is en mense sien wat op straat staan en bedel. Almal dra hul eie laste, tieners ook! Die stresvlakke loop hoog tydens eksamen en soms voel dit asof jy alleen is en niemand verstaan waardeur jy gaan nie. Jy sluit jouself af van die wêreld daar buite en in hierdie proses sluit jy God ook uit. Die Here wil nie hê dat ons die pad alleen moet loop nie. Hy weet hoe gou ons die pad byster kan raak, hoe vinnig ons verdwaal in die oerwoud van die lewe en hoe eensaam dit vir ons kan raak sonder Hom. Doen jouself ‘n guns en vertel hom van al jou swaarkry – al is dit net oor al die stres van ‘n hoërskooltiener. Jy is vir Hom belangrik en Hy wil deel wees van jou lewe. Hy is lief vir jou net soos jý is.


Kommentaar

Skater

Rynhard de Bruyn

Probeer alle tieners om uniek en vry te wees? Die vraag is of ons in ons strewe om vry en uniek te wees nie juis presies dieselfde is nie? Is daar nog ‘n Leonardo da Vinci wat lynreg teen die teorieë van sy tyd gaan of gaan jy ‘n werk kry waarna jy elke dag gaan vir die res van jou lewe? Gaan jy trou en kinders kry? Gaan jy sosiaal aanvaarbaar optree en op die sypaadjie loop (letterlik en fi guurlik)? Gaan jy elke aand televisie kyk? Gaan jy spaar vir jou en jou vrou se oudag? Gaan jy as tiener hard probeer om vrydenkend te wees net om op te gee as jy na matriek die “volwasse wêreld” betree? Herhaal nou die volgende; (dis ‘n fi losofi ese geesvangsessie) “Ek is vry.” Die idee van dit wat ons hedendaags bevry, behels om onderhewig te wees aan iets. Al die samele- wingsideale waaraan ons almal op een of ander manier voldoen, ignoreer geheel en al die individu. Dit verseker dat ons by die samelewing inval en dat ons individuele karaktertrekke wegsmelt. Dit mag dalk waar wees dat meeste mense voel dat hulle sterker is in ‘n groep en dat hulle daardeur opgehef eerder as onderdruk word, maar as jy jou individualiteit aanwend om ‘n kollektief sterker te maak gee jy tog juis meeste van dit wat jy kan bied prys vir die groep se beswil. Selfs die tumblr-estetiek is skuldig hieraan. In plaas van om unieke eienskappe van mense uit te lig, dui dit daarop dat elkeen van ons absoluut mál is oor klassieke letterkunde, elke dag “onskatbare hoeveelhede pyn ervaar wat ons psige stukkie vir stukkie verbrokkel” en dat “niemand werklik sal verstaan nie.” Kollektiewe individualisme is net so onderdrukkend en tieners besef meestal nie wanneer hulle sogenaamde andersheid eintlik eendersheid word nie. Hierdeur sê ek glad nie dat die mens nie inherente ooreenkomstige karaktertrekke het nie, maar dat dít wat eie is aan elke individu ook hier onderdruk word. Die ding waaroor ek eintlik skater, is die feit dat die konsep van ‘n vrye wêreld baie dikwels op vrees gebaseer is. Dra dus by tot die samelewing. Skep ‘n produk of diens of identiteit wat iemand só vreesbevange maak net om te dink dat hulle dit nie het nie, dat hulle dit móét hê. En dán trou jy, en dán gaan jy elke dag na dieselfde werksgebou, en dan leef jy ‘n lewe wat ander se respek verdien, en dan word jy deur jou gemeenskap aanvaar, en dan kry jy ‘n familie wat soos jy is sodat jóú eienskappe die wêreld ingestuur word. En dan?


Helpie-Anglisismes Embarrasseer

Rynhard de Bruyn

Die Helpie-familie is trots Afrikaans, maar daar word gereeld afgewyk van Standaard Afrikaans wanneer dit by alledaagse Helpie-taalgebruik kom. Van embarasserende momente tot die journey wat elke Helpie aan die einde van graad 11 moet baasraak – só word ons verenig deur die indringers in ons taaltuin. Leenwoorde en Anglisismes is dalk nie taalkundig korrek nie, maar reis klink net verkeerd as ons eerder op ‘n cool journey kan gaan. Die Golden Boys kan nie die Goue Adonisse wees nie; daar sal net geen vrywilligers wees nie. ‘n Graad 8-buddy klink heelwat meer toeganklik as ‘n inleidende metgesel wat op een of ander manier met my kan identifi seer, en hoe op dees aarde vertaal ‘n mens Helpie Magic? Magiese Helpies? Asseblief nie. Of jy saamstem of nie, Helpie-ismes maak ons almal deel van die Bruin Masjien. Buddies is die rede dat ons uit die staanspoor minder verskrik en verward voel. Helpie Magic is die term wat ons almal verstaan as die sambreel wat net ‘n Helpie op sy lewens-journey kan vergesel. Helpie Magic. Dis soveel meer as net twee woorde.


Advertisements