Kultuurklets

tienertoneel

Mia Louw

Helpies se tienertoneelgroepe is hard aan die oefen vir hierdie jaar se ATKV Tienertoneelstreeksfees wat sal plaasvind op 5 Augustus in Potchefstroom en 12 Augustus in  Sasolburg.  By Helpmekaar is ons bevoorreg om drie toneelstukke op die planke te bring onder leiding van twee uiters bekwame en talentvolle regisseurs naamlik me. Linda van Niekerk en mnr. Eghard Basson. Volgens Mnr. Eghard bied die ATKV-tienertoneel ‘n platform aan die leerders om gesien te word. Hy voel ook dit maak deure oop vir die akteurs deur aan hulle goeie blootstelling op nasionale vlak te gee.  Mnr. Eghard het ‘n gedeelte van sy groep se storielyn gedeel: “Die storie handel oor drie vroue: iemand is getroud, iemand se man is ontrou, en daar word ‘n moord gepleeg, maar wie is die moordenaar? Die vraag wat opkom is: kan ‘n mens ‘n vrou werklik fl ous?” Volgens hom is hierdie stuk, geskryf deur Andre-Pierre Viviers, gekies omdat die sukses van die aktrises se spel nie afhang van te veel bewegings en ander faktore nie, maar wel van die emosie waarmee hulle hul rolle vertolk.


Helpie-Pantonime bied ‘n Sprokie vir ‘n Stadskind

Mieke Gouws

Produksie
Produksiehoofrolle: die lont agter die produksie- bom. (Foto deur Le-Lanie Ludick.)

Vanjaar se Helpie-produksie gaan in die vorm van ‘n pantomime aangebied word. ‘Rooibekkie en die Wolf’ sal die gehoor vanaf 30 Julie tot 3 Augustus by Wits se Linder Ouditorium na ‘n sprokieswêreld wegvoer. Volgens die Beeld-joernalis, Janine Morris, is ‘n pantomime ‘n teaterervaring in fabelagtige oordaad. “Heeltemal verspot, lekker uitspattig en sommer net laf.” Die woordeboek beskryf dit as die kuns van dramatiese uitdrukking waarin gebare en gesigsuitdrukkings eerder as woorde gebruik word. Dit is teatervermaak gegrond op ‘n sprokie, met sang, danse en ligsinnige humor. Ilne Benade (van Villa Rosa-faam) het die teks saamgestel en is ook deel van die span wat die regie behartig. Volgens mnr. Eghard Basson, drama-onderwyser by Helpmekaar, is daar tydens die oudisies gesoek na akteurs en aktrises wat ‘n natuurlike aanvoeling vir díe tipe vertolking toon, “Dit is belangrik dat die karakters die gehoor deurentyd sal kan vermaak”, sê Mnr. Eghard. Volgens hom het “die unieke styl van hierdie produksie genoodsaak dat interpretasievermoë ‘n belangrike rol tydens die oudisie-proses gespeel het.” Daar kan uitgesien word om onder andere vir Marli Uys as Rooibekkie, Ludwik van Wyk as die Spieël en Caleb Barkhuizen as die Wolf te sien. Hulle gaan natuurlik bygestaan word deur baie ander kleurvolle karakters. “Ek sien baie uit na Helpmekaar se eerste pantomime, want dit gaan asemrowend wees. Die teks bevat iets vir almal en is vreeslik snaaks.” sê Caleb Barkhuizen. Die musiek vir die produksie word behartig deur Helpmekaar se eie orkes wat liedjies soos Freaks, Mengelmoeskardoes,Spieëltjie-spieëltjie, Sisters are doing it for themselves en nog vele ander nuwe lewe op die verhoog gaan gee. Om sukses te verseker is hulle boonop al hard aan die oefen vir die groot aand. Sonder om iets weg te gee kan ons berig dat die storielyn handel oor ‘n talentkompetisie wat by die Bruin Reus op die Bult gehou gaan word. Die kompetisie het al die feëkarakters in rep-en-roer, maar hulle pad na roem is natuurlik vol kronkels en draaie wat dikwels vir skreeusnaakse oomblikke sorg. Kom raak verlore saam met pratende varkies, gevreesde boewe en ou gunstelinge soos Rooikappie – wat dalk tog uiteindelik nuwe liefde gaan vind – in Helpmekaar Kollege se eie pantonime-sprokie.


konsertgeheime

Niki Vermaak

groentjieDie groentjiekonsert by Helpmekaar Kollege is jaarliks ‘n reusesukses en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Kati Beckerling, ‘n matriekleerder, was die meesterbrein agter die “’oeuvre” wat die gehoor betower het. Tydens ‘n onderhoud met die Flitse verklap sy hoe sy aan die idee gekom het. “Ek het deur die ryslanderye in China geloop en begin wonder oor Helpmekaar as skool. Ek het gedink aan hoe cool dit sou wees as ek ’n towenaar kon wees en as Helpmekaar Hogwarts kon wees. My gedagtes het afgedwaal en ek het aan al die wonderlike fantasieverhale van my grootwordjare gedink en dís waar die idee vandaan gekom het.” Die algehele gevoel onder die graad 8’s was dat dit ’n spesiale ervaring was wat hulle altyd sal koester, en dat dit glad nie so erg was soos wat hulle verwag het nie. Kati meen dat die fi nale produk baie beter was as wat sy verwag het! “Ek het halfpad deur in die storielyn en konsep begin twyfel en ek was glad nie seker dat die gehoor dit sou geniet nie. Dinge het eers met die kleedrepetisie begin lyk of dit bymekaar kom en ek was toe baie gelukkig met hoe dinge uitgedraai het”.


Spraakgilde Sprankel

Karla Jonker

Die uitdunne van die Suid-Afrikaanse spraakgildefees het plaasgevind op 10 Maart met die gala-aand op 17 Maart. Met so baie selfvertroue en geoliede toesprake het die spanne die beoordelaars se voete behoorlik onder hulle uitgeslaan. Selfs die graad 8’s het dit baie geniet. Moné Rossouw en Dané Jacobs het gesê dat hulle lekker gelag het tydens oefeninge, nuwe vriende gemaak het en weer die belangrikheid van samewerking besef het. Die leerders wat deel was van die graad 9-span wat as die wenners van die juniorafdeling uitgetree het, was Pascale Viviers, Karyn Ebersohn, Yahsna Higgens en Micke Coetzee. Micke vertel: “Ek het nie net baie redenaars-‘tips’ gekry nie, maar dit het ook my selfvertroue opgebou. Die geleentheid om in ‘n span deel te neem het my baie geleer hoe om mense te hanteer.” Die graad 11-Forumspan, bestaande uit Jacques Peacock, Armand Prinsloo en Stefan Meyer het die prestige-afdeling gewen. Die spanne se prestasies tydens die spraakgildefees het weereens die harde werk en toewyding van Helpmekaar se sprekers getoon.

spraakgilde


debat

Karla Jonker

Die jaarlikse debatkompetisie se eerste rondte het plaasgevind in April 2016. Vyf van ons ses spanne het deurgedring na die fi nale rondte van die Gauteng spraakgildekompetisie. Volgens me. Mia Roberts, koördineerder van debat by Helpmekaar, is debatskompetisies be- slis níe vir die wat navorsing-sku is nie. Om deel te wees van ‘n debatspan verg baie voorbereiding en jou navorsing moet breedvoerig en objektief gedoen word. Dit leer jou om bronne te ontleed, dit jou eie te maak en dit dan in die hitte van die stryd aan te haal. Die junior onderwerp vir hierdie jaar is “Voldoen die Suid Afrikaanse onderwysstelsel aan ons land se behoeftes?” en die seniors debatteer oor “Bevorder Engels as onderrigtaal verdraagsaamheid in SA?”. Albei hierdie onderwerpe is aktueel en handel oor vraagstukke wat na aan ons harte lê. Veral gesien in die lig van gebeure op talle Suid-Afrikaanse kampusse vroeër in die jaar is dít twee vrae waarop baie ouers en leerders antwoorde wil hê.


Advertisements