Sosiaal

Kinkel in die Kabel Tydens Valweek

Kirsten Phillips

RYNHARD
(Foto verskaf deur Rynhard de Bruyn.)

Weereens was Helpmekaar se valweek ‘n reuse sukses. Vanaf die 9de Februarie het die Helpies vol entoesiasme by die skool opgedaag met hul bykomstighede vir die dag. Met speelse temas soos Helpie-Magic, laf-en-lighartig, gesigverfen rooi het almal opgewonde die dae afgetel tot Helpmekaar se eie Karnaval Maskerbal. Ongeag die voorgeskrewe tema het Rynhard de Bruyn, ‘n graad 11-leerder wat daarvan oortuig is dat Valentynsdag liefde vereenvoudig sodat maatskappye en mense op ‘n oppervlakkige manier daarby baatvind, elke dag ‘n bord om sy nek gedra met ‘n donker humoristiese slagspreuk daarop.
Die Helpie-Flitse se belangstelling was dadelik geprikkel en ons kon nie wag om dieper ondersoek in te stel na die oortuigings agter die slagspreuke nie. Rynhard se daaglikse bykomstigheid tydens Valentynsweek was ‘n ironiese anti-liefdesboodskap geskryf in eenvoudige swart letters op ‘n eenvoudige wit papier. Volgens hom het hy spesifiek hoofletters met geen uitroeptekens gebruik om só te verseker dat die kommentaar nie met aggressie verwar word nie. Die anti-liefdesboodskappe het gewissel van “Hy’s nie regtig lief vir jou nie” na “Sy gaan jou los na die Valbal”. Dag 3 se boodskap: “Tel 10 kg op en kyk of hy by jou bly” was veral ‘n gunsteling onder die Helpies.
Elke sin is spesifiek geformuleer om ‘n speelse ironie en sarkasme oor ons samelewing en die rooskleurige liefdesbril van hoërskoolleerders uit te beeld. Sy doel met die aanhalings en die gebruik van donker humor was om aan te toon hoe kommersieel
Valentynsdag kan wees. “Ons word só by die idee van ‘n liefdesverhouding ingetrek dat ons soms optree op ‘n manier wat nie ons ware aard of persoonlikhede weerspieël nie” sê Rynhard. Daardeur sê hy nie dat liefde nie bestaan nie; hy sê bloot dat kommersiële liefde nie so foutloos is soos wat ons by tye dink nie. Hy voeg by dat die aanhalings bloot as sosiale kommentaar gedien het en hoegenaamd nie sy eie ervaring met liefde verteenwoordig nie. Rynhard is ook seker dat baie leerders met die stellings saamgestem het aangesien baie genoem het dat sy teorieë nie heeltemal verkeerd was nie. Hoewel sommiges wel gedink dat hy dalk verbitterd kan wees, het die meeste leerders lekker gelag en die idees daaragter waardeer en gesnap. “Helpies is mos skerp”, was Rynhard se presiese woorde. Rynhard, Helpies sien daarna uit om te sien of Kupido se pyl jou gaan tref voor 2017 se Valweek – en wie weet wat jou slagspreuke dán gaan wees…


 HEIKE INSTAGRAM

Heike Edeling

Hoeveel keer hoor ons die geklets oor ‘likes’ op Instagram per dag? Om jou Instagram-    potensiaal topklas te hou, kan hierdie 3 wenke jou beslis help!

Wanneer jy ‘n foto neem waar die horison, of enige ander reguit lyn in die agtergrond Wenk 1.3.jpgsigbaar    is, maak seker dat dit wel reguit is. Wanneer sien mens ooit ‘n skewe horison? Nooit.

Indien jy die toep “Instasize” of iets soortgelyk gebruik om ‘n wit raam om jou foto te sit, hou daarby! Hou ook dieselfde grootte van die foto om sodoende ‘n netjieser voorkoms op jou profiel te verseker.

Wenk 2

Om aan te sluit by die vorige wenk… Instagram het in 2015 die funksie ontwikkel om die hele foto, en nie net ‘n vierkant nie, in te pas voor jy jou foto plaas. Gebruik dit! Dit spaar jou die moeite om eers ‘n wit raam op te sit asook spasie op jou foon indien jy nie meer stoorplek vir nog ‘n toep op jou foon het nie. As jy ‘n foto op jou selfoon of kamera neem lyk die komposisie dikwels baie beter indien dit nie in ‘n vierkant gesny is nie. Die belangrikste les van almal is dat die beste kamera die een bý jou is. Vang jou herinneringe vas, en deel dit nou op ‘n meer professionele manier aan ander. Wie weet? Miskien is dit jóú asemrowende foto waaroor almal op die stoepe gaan klets!


Bel die Polisie – Jy’t My Hart Gesteel 

James Clarke

“Pick-up lines”: die pad na ‘n geliefde se hart of na ’n dwarsklap deur die gesig? “Pickup lines”, of te wel ‘n flikflooi-geselsie, kan gedefinieer word as ‘n sin wat gebruik word wanneer daar vir die eerste keer met ‘n ander persoon kontak gemaak word met die doel om romanse te inisieer. Maar enigiemand wat al ooit een van hierdie aanlê-sinne gebruik of gehoor het, kan daarvan getuig dat dit nie altyd suksesvol, of belangriker nog, snaaks is nie.

Aan die een kant is dit ‘n goeie manier om vir die eerste keer met ‘n vreemdeling in wie jy belangstel te praat.

Die gebruik van hierdie flikflooi-geselsies wys dat jy inisiatief en selfvertroue het om die eerste stap te neem. En al misluk jy in jou poging verloor jy darem niks meer as ‘n stukkie van jou ego nie. Maar indien jy suksesvol is lê daar eindelose romantiese moontlikhede vir jou voor.

Hierdie aanlê-sinne het die potensiaal om iemand se dag te maak of om ‘n persoon erg te beledig as dit te suggestief of kwaadwillig is. So, wees eerder versigtig wanneer jy een van hierdie flikflooi-geselsies wil gebruik. Hou jou “pick-up line” so skoon as moontlik en wees oorspronklik en komplimenterend. Wie weet, dalk hou jou toekomstige geliefde van ‘n kreatiewe en meer selfversekerde wederhelfte… jy’t niks om te verloor nie!

VALWEEK 1
Welpies geniet hulle eerste Valentynsweek. (Foto verskaf deur Fotografieklub)
VALWEEK 2
Graad 11’s wys hoe dit gedoen word tydens Valentynsweek. (Foto verskaf deur Fotografieklub)

 

 

 

 

 

 


Helpie-Kouse Skitter Wit

Inge Rawlins

Bruin kouse is jare reeds sinoniem met die Helpmekaar-dogter se uniform. Die Helpie-Flitse het gaan uitvind wat die Helpies dink van díe splinternuwe wit kort kouse waarmee die dogters sedert die begin van die nuwe skooljaar spog. Die algemene gevoel onder die Helpies en die onnies is dat die wit kort kouse ‘n welkome verandering is. Die bruin kouse het die neiging gehad om deur die loop van die dag in “kort bruin kouse” te verander. Die wit kouse is definitief vrouliker, netjieser en baie koeler. “Meer been is natuurlik sagter op die manlike oog”, aldus die Hel- pieseuns. Met die koms van die nuwe kort kouse het ons nou deel geword van nóg ‘n kraakvars Helpie-tradisie.


HELPIE BUSSE RY BES
(Foto verskaf deur Le-Lanie Ludick)

Die spreekwoord: “jy kan nie jou familie kies nie” geld definitief ook vir ‘n Helpie se “busfamilie”. Helpmekaar het twee of meer busse wat in elke windrigting ry en daar is heelwat tradisies op die busse om die dag-tot-dag bestaan interessant te maak. Een tradisie wat al die busse gemeen het, is die allergewilde “buspartytjies”. ‘n Buspartytjie het geen reëls nie en ook geen rede nie. Indien die spanning te veel word, die vakansie te ver voel of die naweek te kort was word daar ‘n buspartytjie gereël. Die tradisie is dat elkeen ‘n pakkie lekkers, skyfies, suigstokkies of enige iets lekkers en ongesonds bring vir die oggendrit skool toe. Tydens ‘n buspartytjie op die Suide-bus is daar altyd musiek wat die uitdeel van die lekkers vergesel en ‘n spesiale tradisie waarby al jare gehou word: die bus stop langs die pad in Booysensweg sodat ‘n gewillige graad-8 kan uitspring en vinnig hardloop om vetkoek op die hoek van die straat te koop. Indien jy hou van nuwerwetse musiek is die Weste-bus die een om te ry. Dit is die één bus wat jy eers sal hoor voordat jy dit sien aankom met musiek wat blêr en die “Weste is die beste”-leuse wat wyd en Suid verkondig word. Alhoewel die busse uit die Ooste kleiner groepies aanry, kan jy maar weet dat die kinders van Kempton altyd sal kla oor hoe moeg hulle is omdat hulle so vroeg moet opstaan. Die busse van die Noorde af het glad nie hierdie probleem nie. Tiaan Scholtz, ‘n matriekleerder wat by Jan-Celliers opklim, sê: “Ons het nie tyd om tradisies te skep nie, ons busrit is te kort.”


Restaurantresensie

HUDSONS

Die 4.5 ster “Burgerjoint”

Nina Mostert

HUDSONS

As jou maag brul vir ‘n burger en jou lippe smag na ‘n melkskommel dan is “Hudson’s Burger Joint” die plek vir jou en jou uitgehongerde pelle. Hierdie is nie maar net nóg ‘n “burger joint” in Parkhurst nie, maar een van die top vier spesialis-burgerrestaurante in Johannesburg. Meeste “burgerpatties” weeg ‘n allemintige 250 gram, maar vir diegene wat ‘n liggewig weergawe verkies, is daar ‘n 180 gram ook op die spyskaart. Vir die wat hulle plankdun lyfie wil behou, is daar 3 klein burgers op ‘n plankie en ‘n slaai… Sluit jou feesmaal af met ‘n gourmet melkskommel of ‘n stoute nagereg: grondboontjiebotter-genot of diepgebraaide Oreonagereg. Van die vrolike kelners, die op-en-wakker musiek tot die Wilson Toffies wat saam met die rekening kom, maak van “Hudson’s Burger Joint” een van my gunsteling plekke om uit te hang.


Helpies Kies Beauty & Beast

Carmine van der Westhuizen

beauty beast

Vrydagaand 6 Mei het die afwagting en opwinding hoog gekook in Helpmekaar Kollege se skoolsaal tydens die Beauty and the Beast-funksie. Hier is Helpmekaar Kollege se eie Beauty en Beast gekroon na ‘n aand vol pret en genot. Taylor Underhay (graad 11) is gekroon as Beauty 2016 en vertel dat al daardie laat nagte van voorbereiding defi nitief die moeite werd was. “Om te sien hoe die hele ‘show’ bymekaarkom en hoe al ons oefening vrug dra, was werklik ‘n hoogtepunt.”Zandrè Kruger kon sy laaste Beauty and the Beast op net so ‘n hoë noot eindig deur weg te stap met ‘The Beast’-titel.  Die Helpies het vooraf gestem vir tien graad 11 en 12 dogters en seuns en só is die Beauty and the Beast fi naliste gekies. Taylor sê dat dit vir haar ‘n groot voorreg was om ‘n fi nalis te wees, maar nog ‘n groter voorreg om as Beauty gekroon te word. Helpmekaar se Beauty and the Beast is soveel meer as net dit wat op die verhoog gebeur.  Zandrè vertel dat daar nuwe vriendskapsbande gevorm is op die verhoog en af van die verhoog. Taylor vertel dat die gees onder die fi naliste agter die skerms dit pret gemaak het. Die feit dat die gaskunstenaars almal ons eie Helpies was, het die aand verpersoonlik.  Hierdie spogfunksie was ‘n hoogtepunt op alle Helpies se skoolkalenders en deur Juffrou Richelle van Zyl, Annemarie Venter en Adele Dickens georganiseer. Die finaliste is op verskeie gebiede beoordeel.  Daar was ‘n informeledrag-sessie waartydens die paartjies voorgestel is aan die gehoor en die paartjies die geleentheid gehad het om ‘n eerste indruk te maak.  Die tweede sessie was die paartjiedans waar die fi naliste moes uithaal en wys. Hier moes hulle hul dansskoene aantrek en elke paartjie moes ‘n spesifi eke land uitbeeld tydens hul dans. Die volgende sessie was die formele drag waartydens die vraagsessie plaasgevind het. Zandré vertel dat dít die mees uitdagende aspek van die funksie was.   Zandré Kruger gee raad aan toekomstige fi naliste: “Jy moet net gaan om dit te geniet.  Moenie stres nie en wees net jouself.  Ek was in 2015 te ernstig en het heelwat te veel gestres, maar hierdie jaar het ek net gegaan om dit te geniet.  So gaan net om dit te geniet en vergeet van wen.” Taylor Underhay gee ook raad aan toekomstige fi naliste: “Geniet dit net en wees die beste jy wat jy kan wees.”  Hierdie funksie was defi nitief ‘n hoogtepunt van die oomblik toe die finaliste gekies is, totdat Zandré en Taylor gekroon is.


Welpies en Matrieks se Gees Kook By Interhuis Swemgala

Lize-Marie van Wyk

SWEMGALA
Matrieks hou die gees vurig aan die gang tydens die interhuisswemgala (Foto deur Pieter Hougaard)

Die Helpies se jaarlikse interhuis-swemgala is op 16 Januarie gehou. Na hulle eerste harde week van hoërskool, het die Welpies, tesame met die Matrieks van 2016, die res van die Helpies ‘n paar dinge rakende spangees touwys gemaak.  Daar is die heeldag huiskrete gesing en die kostuum-temas was uitbundig. Al drie huise het moeite gedoen en dit was vanuit die staanspoor duidelik dat dit ‘n strawwe kompetisie rondom die geesbeker gaan wees.  Die Matriek-kompetisie tussen die huise was taai, en die graad twaalfs het jonger grade met waterballonne aangemoedig om ten spyte van die hitte uit volle bors te sing.  Die Welpies het veral daarna uitgesien om hulle heel eerste Helpie-lengte te swem, aangesien die reën hulle kanse in die wiele gery het tydens die Maandag se ontgroening. Die Matrieks het weer op húlle beurt die Matriek-swemsessie duidelik geniet, “Ons het heerlik baljaar in die koel water en net lekker ontspan na ‘n rowwe week”, volgens Lana-mari van Zyl (graad 12). Vir die Welpies was dit ‘n ander storie, “Die vyftig meter is baie verder as wat ek gedink het”, sê ‘n trotse graad 8-Helpie. Almal is dit eens dat dit verseker ‘n swemgala was wat die Matrieks en Welpies vir altyd sal onthou.


charl philippa

René Lourens

Philippa Higgins (graad 10) en Charl du Toit (graad 9) is ‘n gedugte span wat enige iemand hoendervleis gee wanneer hulle saam sing.  Die duetspan het ‘n paar geheime waarvan min mense weet. Charl het in sy graad 7-jaar by die Barnyard-teater as ‘Justin Bieber’ opgetree. Philippa vertel weer van “die donker dae” toe daar video’s van haar in haar graad 6-jaar op YouTube gelaai is. Dit was nog voordat hulle ontmoet het. Hulle sangjuffrou het hulle aangemoedig om liedjies saam te sing. Charl sê dat hulle nie regtig besluit het hulle gaan saamsing nie – dit het natuurlik gekom. “Hy het vir my mooi gesing. So ek wou graag aanhou sing saam met hom” , het Philippa vertel. Dié twee het al die Helpies se asems weggeslaan toe hulle die eerste keer vir ons “Billy Jean” gesing het. Volgens hulle is “Billy Jean” die basis van hulle duetloopbaan; hulle swakste en beste optrede was albei tydens die sing van díe liedjie. Hulle hou oor die algemeen by “acoustic covers, ‘n jazzy-tipe styl”, volgens Philippa. Sy sê ook dat sy soms vir Charl moet kry om te fokus, en hy erken dat sy gedagtes vinnig dwaal. ‘n Spannetjie wat beslis dopgehou moet word!


Advertisements