Voorblad & Redaksioneel

taaltameletjie

Kirsten Dennis

TAALBELEID

Suid-Afrika het ‘n baie unieke taalbeleid met elf amptelike tale; ‘n tameletjie as dit kom by taalbeleide in skole en tersiêre instansies. Dit lei ook tot probleme met moedertaalonderrig wat direk gekoppel word aan akademiese prestasie, en wanneer die ideale tyd is om ‘n tweede taal aan te leer en te gebruik as voertaal.
Die bemeestering van ‘n tweede taal is baie belangrik vir leerders aangesien eindeksamens slegs in Engels óf Afrikaans afgelê mag word. Die feit dat Engels hoofsaaklik in die besigheidswêreld en arbeidsmark gebruik word, plaas verder druk op miljoene Suid-Afrikaners om ‘n tweede taal aan te leer. ‘n Verslag deur Patrick Mthombeni en Cecilia van Zyl-Schalekamp oor die effek van sosiale faktore op die akademiese prestasie van eerstejaarstudente aan die Universiteit van Johannesburg het getoon dat studente se moedertaal, en die gebruik van hierdie taal op skool en universiteit, ‘n impak gehad het op hulle akademiese prestasie. 66% van leerders wat in hul moedertaal studeer het, het goed presteer teenoor slegs 34% van leerders wat níe in hul moedertaal studeer het nie. Daar is dus ‘n sterk verwantskap tussen moedertaalonderrig en akademiese prestasie.Mnr. König is van mening dat dit belangrik is om denkvaardighede, soos om verbande te trek en te analiseer, in jou moedertaal aan te leer en dat jy jou moedertaal tot op die ouderdom van agtien jaar moet gebruik. Dit is veral noodsaaklik vir leerders in die IEB-stelsel aangesien daar soveel fokus geplaas word op denke en toepassing. Die nasionale taalbeleid word egter al meer onvoorspelbaar en dus is daar ‘n beleid in plek gestel by Helpmekaar waar daar van graad agt tot elf belangrike terminologie in Fisiese Wetenskappe, Rekeningkunde en Wiskunde in Engels deurgegee gaan word. Vraagstellingsgaan in Engels én Afrikaans gegee word en IT-prakties sal net in Engels gedoen word om die oorgang van Afrikaans op skool na Engels op universiteit te vergemaklik. ‘n Lid van die Departement van Basiese Onderwys, Elijah Mhlanga, het in ‘n verklaringgesê dat alle leerders van graad een in Engels moet skoolgaan, sodat hulle nie later sal sukkelom die taal aan te leer nie. Professor Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat en alombekend vir sy onderwysfilosofieë, is ook van mening dat Engels so vroeg asmoontlik as onderrigtaal gebruik moet word. Die probleme wat met taalbeleid gepaard gaan is nie net tot skoolonderrig beperk nie, maar kan ook by universiteite gesien word. Die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria en die Noord-Wes het al drie in Februarie deurgeloop onder optogte oor die taalbeleid van díe universiteite. Studente by die Universiteit van Pretoria het druk geplaas op die universiteit om sy taalbeleid te verander deur ‘n memorandum op te stel op 22 Februarie 2016, sodat slegs Engels as onderrigtaal gebruik word. Annerine Venter, oud-Helpie en student by die Universiteit van Pretoria, is van mening dat “ons nie meer leef in ‘n tyd waarin ‘n universiteit net Afrikaans kan wees nie, dit moet tog relevant wees vir die behoeftes van ‘n veranderende land.” Die beleid van die Universiteit van Stellenbosch is tans dat Afrikaans en Engels ewe veel gebruik word, maar sekere studente groepe dring daarop aan dat Engels as die enigste onderrigtaal gebruik word. Daar is geen ooglopende oplossing vir die vraagstukke rondom moedertaalonderrig nie. ‘n Helpie-matriek se keuse van universiteit kan deur hierdie onsekerheid en onvoorspelbaarheid beïnvloed word, en belangrike kopskuiwe en ‘n oop gemoed is dalk nodig om hierdie moontlike veranderinge te verwerk.


Bruintruie maak geskiedenis

Helpmekaar klop Monnas 30-15

Melissa Fourie

Helpmekaar Kollege se eerste-rugbyspan het op 28 Maart 2016 vir die eerste keer in 19 jaar ‘n wedstryd teen Hoërskool Monument gewen.
Hierdie titaniese stryd het plaasgevindby die 21ste “St. Johns College Easter Festival”
waar 12 top rugbyskole, soos Paarl Boys High en Afrikaans Seuns Hoër, oor ’n tydperk van drie dae kragte teen mekaar gemeet het. Helpmekaar se eerstespan, wat in die grootskole-liga van die Beeldtrofee-kompetisie deelneem, het die skare behoorlik op hulle voete gehad toe hulle teen halftyd met ses punte voorgeloop het. Die spelers van
Hoërskool Monument, wat in die makroskole-liga deelneem, kon nie daarin slaag om die
agterstand in te haal nie en moes na 80 minute die knie buig teen die Bruin Reus op die Bult.
Die grootste Helpie-puntemakers was David Cary, Sherman Rayners en Keegan Haman wat altesaam 15 punte aangeteken het. Die heelagter, Chuiner van Rooyen, se vernuftige skopskoen het vir die res van die punte gesorg. “Voor die wedstryd het ons almal bymekaar gekom en daar is gesê: vuur in die hart, ys in die kop. Met dié wyse woorde van ons vorige kaptein, Eddie van der Merwe, het ons die wedstryd aangepak. Die omstandighede was moeilik en dit het karakter van elke speler vereis, maar met ons sterk band en trots vir Helpmekaar, was ons oorwinnaars.”So sê Chris Pietersen.
Dié oorwinning is beslis een vir die Helpie-geskiedenisblaaie. “Dit is ‘n wedstryd waaroor daar nog lank in skolerugby-kringe gesels gaan word” sê mnr. Johan van Wyk, een van die trotse afrigters van die eerstespan. “Monnas word gereeld deur die provinsiale Leeus afrigters as die no. 1-rugbyskool in Gauteng gesien, maar ons het hierdie stelling beslis verkeerd bewys.” Mnr. Johan is vol hoop dat hulle die liga onoorwonne kan afsluit en sien veral uit na die moontlikheid om Hoërskool Waterkloof op hulle tuisveld te klop.

HMK VS MONNAS

Die eertse rugbyspan na hulle oorwinning oor Monnas. (Foto deur me. Chrina Bock)


hoofgedagtes

Kies om dankbaar te wees.

KLAUS
Klaus König

Die lewe bestaan uit keuses. As ‘n mens jonk is, lyk dit asof wat jy gaan swot of met wie jy gaan trou die belangrikste keuses is. Natuurlik is ditgroot besluite. Maar daar is keuses wat selfs ‘n nog groter rol speel in jou geluk.
Nick Vujicic is ‘n Australiese evangelis en motiveringspreker wat sonder ledemate gebore is. “Mense vra dikwels hoe ek dit regkry om gelukkig te wees al het ek nie arms en bene nie. Die kort antwoord is dat ek ‘n keuse het. Ek kan kwaad wees omdat ek nie ledemate het nie, of ek kan dankbaar wees dat my lewe ‘n doel het. Ek het dankbaarheid gekies.” Dié keuse kan ons almal maak. Daar is in elke mens se lewe dinge waaroor jy ongelukkig of ontevrede kan voel. As jy toelaat dat hierdie dinge jou geluk bepaal, sal jy ‘n negatiewe en onvergenoegde mens word.
Daar is in elkeen van ons se lewens egter ook oorgenoeg dinge om oor bly te wees. Jy kan jou eie lysie maak: die skoonheid van die natuur, gesondheid, geleenthede, geliefdes…Onthou dié keuse, Helpies: “Dit is nie gelukkige mense wat dankbaar is nie, dit is dankbare mense wat gelukkig is.”


Die wiel draai

Roné Coetzer

BUSDRYWERS
Eric, Solomon, James, Simon, Donovan, Pumelo, Cliffordt en Joseph staan reg om die Helpies te karwei. (Foto deur Fotografieklub)

Die Reus op die Bult het ‘n reuse geheime wapen – sy vervoerstelsel. Helpmekaar het 16 busse wat wyd en Suid ry om die diverse skoolgroepe veilig tot op die Reus se voorstoep te besorg. Daar is 16 vaardige busbestuurders wat die leerders veilig heen en weer karwei en elke busbestuurder is ‘n waardevolle skakel in die ketting wat die Helpie-masjien goed geolie hou.
Simon Mmakola bestuur al 11 jaar vir dieskool. Hy was deel gewees van die heel  eerstegroep busdrywers wat die busvloot sien groei het van ‘n skamele twee busse na die indrukwekkende vloot wat dit vandag is. Hy is mal oor die kinders en die aktiwiteite wat posvat as die skooljaar begin. Van al die aktiwiteite is dit die
interhoër waarvan hy die meeste hou. Hy verduidelik dat die gees onder die kinders deur die hele bus vibreer totdat dit hóm ook met opwinding
vul.
John Maganedisa is die bestuurder van die bus La’t Wiel en werk al sedert 2011 by Helpmekaar. Hy geniet die roete wat hy elke dag ry en vertel dat hy elke oggend iets het om na uit te sien. Hy staan al halfvyf op om vyfuur in die pad te val, maar sê dat dit alles die moeite werd is. “Ek ry al vier jaar dieselfde pad en elke dag sien ek die kinders op my roete – hulle het my vriende geword – en dit is vir my lekker om elkeen van hulle elke dag te groet.” Die busleerders is in uiters bekwame hande met busbestuurders wat hulle as vriende ag en wat daarna streef om hulle veilig by hulle eindbestemming te kry.


gewoontes helpies.png

Advertisements